Ouerskap – Het dit ‘n invloed op jou en jou maat se verhouding?


Daar is ‘n hele paar aannames wat gemaak (en aanvaar) word oor hoe die verhouding tussen ouers verander na die geboorte van hulle eerste baba.

Sommiges is oortuig daarvan dat die kwaliteit van die verhouding of die bevrediging wat uit die verhouding verkry word ongetwyfeld sal afneem (al is dit ook net tydelik).  Aan die ander kant is daar ook diegene wat dink dat die toevoeging van ‘n baba ‘n verhouding sal kan red of versterk.

So, wat staan ouers te doen wanneer hulle oor die kwaliteit van hulle eie verhouding wonder, hetsy voor of na die koms van hul baba?

Begin by die begin – n Goeie vriendskap

Wanneer die jong-getroude paartjie reeds goeie vriende voor die koms van hulle baba is, van mekaar hou en die tyd wat hulle saam spandeer regtig geniet, is dit ‘n goeie voorspeller van toekomstige stabiliteit en bevrediging in die verhouding – selfs na die toevoeging van kinders. Die vriendskap komponent van die verhouding tussen ‘n paatjie kan voor of na die koms van ‘n nuwe baba versterk word deur doelbewuste pogings om:

  • Tyd saam te spandeer,
  • Mekaar konstant beter te leer ken,
  • Nuwe en lekker dinge saam te doen, en
  • Betrokke te wees by mekaar se daaglikse lewens en ervarings (hetsy deur fisies daar te wees of deur te gesels daaroor)

Wees bewus van die aanpassingsperiode

Tydens die eerste drie tot ses maande beleef nuwe ouers die grootste aanpassing, maar dit is meestal gefokus op die aanpassing in terme van nuwe roetines, versorging van die baba en die nuwe rol as ouers.

Dit is eers na ongeveer ‘n jaar wanneer ouers begin om te herbesin oor die aanpassing in terme van die verhouding met mekaar.

Die inisiële opgewondenheid oor, aanpassing by en versorging van die baba begin minder vereis na ongeveer ‘n jaar en dus begin ouers meer op mekaar en hulle verhouding fokus.  Die paartjie begin dan besef dat die nuwe roeitine, veranderinge en interaksie met mekaar meer blywend mag wees aangesien daar patrone begin vorm.  Hulle vra dus of die nuwe manier van interaksie en die aksies van hulle maat in die rol as mede-ouer of versorger, goed en aanvaarbaar is al dan nie.

Indien ouers deurentyd (veral tydens die eerste jaar na die baba se geboorte) ook aan hulle verhouding en vriendskapsband gebou het, saam besluit het oor nuwe roetines en patrone, asook tyd saam geniet, vind hulle steeds bevrediging in hulle verhouding met mekaar.

MAAR hoe is dit moontlik wanneer daar ‘n klein babatjie is wat baie vereis – veral in die eerste jaar? Hoe kan ‘n paartjie al hierdie dinge doen en daaraan werk?

Maak jou maat se behoefte jou besigheid

Hoewel daar ‘n defnitiewe verandering in die verhouding plaasvind namate die gesin groei, gebeur dit nie dadelik of skielik nie.  Daar is ‘n konstante wisselwerking.  Die paartjie maak staat op mekaar – hetsy vir energie, aanmoediging of erkenning.  Die rol wat elkeen speel en die effek van die een op die ander is dus van onskatbare waarde.

Om die vooraf genoemde te bevestig toon navorsing dat die volgende faktore tot ‘n afname in verhoudingsvervulling en – bevrediging lei (veral onder vrouens):

  • ‘n Chaoties lewe of lewnestyl van ‘n maat, dit wil sê ‘n lewenstyl of benadering sonder orde en voorspelbaarheid.
  • ‘n Algemene negatiewe ingesteldheid.
  • Min of beperkte aangetrokkenheid of bwondering vir mekaar.

‘n Paartjie moet dus hard daaraan werk om ingestel te wees op mekaar se behoeftes, maar ook om daarop te reageer met dade.

 Jou ingesteldheid en benadering tot uitdagings en verskille

Wanneer jou ingesteldheid meer positief is, benader jy dinge en mense anders.  Jy verwag sukses – hoe ookal jy dit definieer – en sien ‘n uitdaging as ‘n geleentheid waardeur jy kan groei, leer of sterker raak eerder as iets wat onoorkombaar is.

Navorsing toon dat paartjies wie ‘n meer gematigde of sagter benadering en interaksie met mekaar het en uitgagings sien as iets wat saam aangepak en oorkom kan word meer suksesvol in probleemoplossing en konflikhantering is.  Hulle vriendskapsband, verhouding en ouerskap word gebou op respek en liefde waar elkeen se rol en uniekheid raakgesien, gevier en ondersteun word.

Ouerskap is sinoniem met uitdagings, maar ook met groei.  As jou verhouding goeie en sterk wortels het en deurlopend met liefde en aandag versorg word, kan dit enige verandering in omstandighede oorkom.